ⓘ Doeat

                                     

ⓘ Doeat

Doeat was in die Egiptiese mitologie die onderwêreld, die ryk van die god Osiris en die blyplek van ander gode en bonatuurlike wesens. Dit was die streek waardeur die songod, Ra, snags van wes na oos reis. Dit was ook die plek waarheen mense se siele ná hul dood gegaan het om geoordeel te word.

Wat ons vandag van die Doeat weet, kom hoofsaaklik uit begrafnistekste soos die Boek van Poorte, Boek van Grotte, Kistekste, Amdoeat en die Boek van die Dooies. Elkeen hiervan vervul ’n ander funksie en gee ’n ander perspektief op die Doeat, en hulle stem nie noodwendig ooreen nie. Die tekste verskil in ouderdom en oorsprong, en dit kan wees dat daar nooit ’n eenvormige vertolking van die Doeat was nie.

                                     

1. Beskrywing

Die geografie in die Doeat was grotendeels dieselfde as dié van die wêreld wat die Egiptenare geken het. Daar was riviere, eilande, velde, mere, heuwels en grotte, maar ook fantastiese mere van vuur, mure van yster en bome van turkoois. In die Boek van die Twee Wee, een van die Kistekste, was daar selfs ’n kaartagtige beeld van die Doeat.

Die Boek van die Dooies en Kistekste was bedoel as gids vir onlangs afgestorwenes deur die gevaarlike landskap na ’n lewe as ’n ach, of geseende gees tussen die gode. Die mens moes deur ’n reeks poorte gaan wat bewaak is deur gevaarlike geeste, uitgebeeld met menslike liggame en groteske koppe van diere, insekte, messe of fakkels. Dié wesens het ewe groteske name gehad, soos "Bloedrinker van die Slagplaas" en "Die Een wat die Ontlasting van sy Onderlyf eet". Daar was ook heuwels en grotte wat bewoon is deur gode of bonatuurlike diere wat die geeste van die dooies bedreig het. Die doel van die boeke was nie om die geografie uit te lê nie, maar om ’n reeks rites te beskryf wat die dooies sou moes deurmaak om die hiernamaals te bereik.

As die afgestorwene verby dié monsters gekom het, sou hy of sy die plek van die "weeg van die hart" bereik. Hier is die afgestorwene se hart deur Anoebis geweeg. Daarvoor het hy die volstruisveer van Maät, die godin van die waarheid en geregtigheid, gebruik. Enige hart swaarder of ligter as haar veer sou deur Ammit, die Verorberaar van Siele, geeet word. Die siele wat die toets geslaag het, sou na die paradys van Aaroe kon reis.

Ondanks die onaangename inwoners van die Doeat was dit geen hel waarheen mense gestuur is nie; die aard van die Doeat was veel ingewikkelder. Die groteske geeste van die onderwêreld was nie boos nie, maar onder beheer van die gode. Gode het ook daar gewoon, soos Osiris, Anoebis, Thoth, Horus, Hathor en Maät. Die songod, Ra, het ook snags deur die Doeat gereis en het hier verander van die bejaarde Atoem in Chepri, die energieke son van die sonsopkoms. Nes afgestorwenes baie beproewinge moes deurstaan, moes Ra aanvalle deur die bose slang Apep afweer.

                                     

2. Bronne

  • Faulkner, R. translator: "The Egyptian Book of the Dead: The Book of Going Forth by Day". Chronicle Books, 2000
  • Taylor, John editor: "Ancient Egyptian Book of the Dead". British Museum Press, 2010.
  • Pinch, G.: "Magic in Ancient Egypt". British Museum Press, 1994
Free and no ads
no need to download or install

Pino - logical board game which is based on tactics and strategy. In general this is a remix of chess, checkers and corners. The game develops imagination, concentration, teaches how to solve tasks, plan their own actions and of course to think logically. It does not matter how much pieces you have, the main thing is how they are placement!

online intellectual game →